NOU die dag ry ’n klomp besoekers by een van Orange River Cellars se proelokale in en versoek ’n “organiese” wyn. En die versoek is heel verstaanbaar aangesien organies-geproduseerde voedsel en drank deesdae behoorlik in die verbruiker se keelgat afgedruk word. ’n Mens kan skaars by ’n supermark of koswinkel verbyloop sonder ’n versoek om “organiese” melk, groente of koringprodukte op die proef te stel. Organies beteken die produk word so natuurlik as moontlik geproduseer. Deur die natuur, en sonder die byvoeging van chemiese middels om welke rede ook al.

As dit by wyn kom, is dit egter nie so maklik om ’n organiese produk te skep nie. Dis nou organies in die volle suiwere, natuurlike sin van die woord. Want wynmaak behels meer as net druiwe.Goed, dit is moontlik vir ’n wingerdboer om organies te boer. Dit beteken dat wanneer daar gespuit word, dit met natuurlike middels gedoen is. En geen kunsmatige voedingstowwe mag op die grond benut word nie. Maar dis net die eerste stap.Kom die organiese druiwe by die wynkelder aan, is dit nie sommer maklik om wyn te maak sonder om middels by te voeg nie. Die hoofmiddel is swael. Dit word in die wynmaakproses gebruik om te verseker dat die wyn nie deur suurstof oorval word en in asyn verander nie. Swael is ook ’n baie veilige manier om die wyn te suiwer deur ongewenste mikro-organismes dood te maak.Hoewel enkele Suid-Afrikaanse kelders die hele wynmaakproses voltooi sonder die byvoeging van swael of ander middels, bestaan 100%- organiese wyn nie werklik nie. Wyn van organiese druiwe, ja, maar nie organiese wyn van punt A tot punt Z nie.Orange River Cellars se druiwe is skoon en suiwer.Die rede is die skoon lug en die oop ruimte wat die wingerd en die vrug gesond hou, asook skade deur virusse en lastige goggas beperk.Trouens, dit is hierdie beelde van ongerepte natuur en sondeurdrenkte wingerde wat die Oranjerivier-wynstreek se beeld dié van ’n vooraanstaande en wenslike gebied vir wynliefhebbers maak. Want wyn is tog ’n produk van die natuur, en as jou natuurstreek goed lyk, spreek dit boekdele van die uiteindelike gehalte van jou produk.Terloops, mense wat beweer hulle sukkel om wyn met swael daarin te drink moet nie die wyn staan en blameer nie – die meeste verpakte vrugtesappe, byvoorbeeld, het veel meer swael as wyn.Om af te sluit moet Orange River Cellars net weer gelukgewens word met die onlangse eerbewys wat behaal is, naamlik ’n plek onder die 100 Suid-Afrikaanse topwyne. Daar is tans ongeveer 700 wynprodusente en 6000 handelsmerke in die land. Om die top-100 te behaal soos onlangs berig, is ’n reuse-prestasie vir enige wynkelder. Die wingerdboere en die wynmakers van Orange River Cellars verdien alle eer wat hulle toekom. Dit is net natuurlik!


Copyright © 2017

Professional Web Site Design