Orange River Cellars het vanjaar werklik ‘n groot slag geslaan ten opsigte van wynkompetisies. Op verlede week se Veritas Wyntoekennings, die grootste en glansrykste wynkompetisie in die land, het die kelder weggestap met ’n Goue medalje vir sy Colombard 2014.Almal was dit eens dat vanjaar se Veritas, wat om en by die 1800 inskrywings gelok het, die mededingste was in jare, met die beoordelaars wat besonder suinig was met die uitdeel van Goue en Dubbelgoue medaljes.
Vir Orange River Cellars is hierdie ‘n besonderse prestasie aangesien hy nog nie hierdie vlak van nasionale erkenning vir tafelwyne gekry het nie, hoewel die kelders se gefortifiseerde Muskadels en Jerepikos gereeld die medaljes inryg. ‘n Goue medalje vir ‘n tafelwyn, waaronder jy jouself onder die bestes van die land bevind, is ‘n uitstekende prestasie en lui ‘n nuwe era vir Orange River Cellars se wyne in, meen Koos Visser, die kelders se bemarkingsbestuurder.
“Ondanks die geografiese uitdagings verbonde aan die maak van premie wyn in hierdie streek, het die produsente, wingerdboukundiges en wynmakers gewys dat hulle kans sien vir enigiets,” sê Visser. “En hierdie jaar het hulle behoorlik gewys waartoe ons as een wyneenheid in staat is. Om daardie Colombard van ons te laat pronk voor ’n span wêreld wynkenners is van groot betekenis en ek kan almal verseker dat die internasionale en nasionale wynmarkte nou met nuwe oë na Orange River Cellars kyk.”

Colombard is een van die hoofdruifkultivars in die streek en die klimaat en vrugbare riviergronde bring die beste karakters in hom na vore. Met die insette van Orange River Cellars se span wingerdboukundiges die afgelope dekade, die kundigheid van die wynmakers en die gebruik van tegnologie om onder meer pH-verstellings te doen, het die gehalte van die Colombard ’n nuwe dimensie bereik.

Volgens Visser het die ideale groeitoestande van 2013 ook hierin ‘n rol gespeel. “Ons wynstreek het ‘n baie koue winter ervaar en die rypseisoen was langer as gewoonlik wat die druiwe se geure mooi kans gegee het om egalig en in balans te ontwikkel,” sê hy. “Parstyd was twee weke later as gewoonlik, en reeds aan die beginfases van die wyn se ontwikkeling was die wynmakers dit eens dat hier ’n buitengewone oesjaar ter sprake is. Dit is vir ons van groot waarde dat die Veritas-toekenning ons as reg bewys het.”
Van nou af sal die Orange River Cellars Colombard 2014 met ’n Goue Veritas-plakkertjie kan pronk, en volgens Visser sal verbruikers met nuwe oë na hierdie wyn kyk.

“Die feit dat ons 800km van die tradisionele wynlande van die Kaap geleë is beteken dat Orange River Cellars hard moet werk om ons beeld as ’n gehalte gebied in die oë van die verbruiker te bevestig,” sê hy. “Deur die jare het die wynverbruiker egter geleer om die Veritas-aanbevelings te vertrou, so die hele wynbedryf langs die Oranjerivier gaan deur ons goue medalje baat vind.

“En ja, dit is die eerste van vele. Soos die Engelsman sê: watch this space!”


Copyright © 2017

Professional Web Site Design