DIE Noord-Kaapse boer van die jaar het die eerbewys aan sy ma opgedra wat dié week met kanker gediagnoseer is. Ben Visser, ’n pekanneut- en olyfboer van die Eden-landgoed by Hartswater, het gesê sy ma, Deborah, is pas met longkanker gediagnoseer. Sy word in die Mediclinic Bloemfontein behandel. Haar man, Ben sr., is by haar. Visser het die trofee aan sy ma opgedra. “Sy is vir my baie spesiaal. Ons is bekommerd oor haar.” Sy ouers is ook van Hartswater waar hy onlangs die omskakeling van kontantgewasse na olywe gedoen het. Hy het Olives South Africa begin en bemark 80 verskillende olyfprodukte – van olie tot velsorgprodukte. Landbouskrywers Suid-Afrika Sentraal het sy boer en landboukundige vir die Vrystaat en die Noord-Kaap Saterdag in Bloemfontein aangewys. Die wenners dring deur tot die na- sionale kompetisie wat op 9 November in Gauteng beslis word. Visser het gesê hy dra die eerbewys ook op aan al die mense wat saam met hom werk. “Die mense is wie ek is, dit is nie ek wat die trofee ontvang nie.” Henning Burger van Upington, bestuurder: wingerdkundige en droëvrugte-tegniese diens-te van die Oranjerivier-wynkelder (OWK), is as die Noord-Kaapse landboukundige van die jaar aangewys. Hy het gesê die wynboere het dit baie moeilik. Baie is deur die vloede in 2011 getref. Sommige het die wingerdstokke afgesny, maar hulle sien klaar weer na ’n nuwe oes uit. Die naweek se koue het egter baie druiweboere erg bekommerd. “Daar is sowat 1000 produsente wat baie bekommerd is en vanaand baie sleg gaan slaap. Ons sal Maandag (vandag) hoor wat het gebeur. Ek boer self ’n bietjie. Ek hoop nie ons het te veel skade nie.” Burger het gesê Suid-Afrikaners kan trots wees op die OWK. Jare lank het hy in die skadu van die Wes-Kaap en die topwyne van daar weggeraak. Min mense het geweet van die omvang van die wynbedryf aan die Oranjerivier. “Amper 20% van die wyn word hier geproduseer. Wat ons trots maak, is dat ons in 2011 en 2012 as die beste wynkelder in Suid-Afrika op ’n omvang van 150000 tot 160000 ton aangewys is.” “Dit is weer ’n teken van deursettingsvermoë. Die produsente is in staat om ’n hoë produksie van goeie gehalte op ’n volhoubare manier te lewer. Ek dra die eerbewys aan elke produsent in die land op.”


Copyright © 2017

Professional Web Site Design