Die jaar 2017 het op ’n ietwat hartseer noot begin met die nuus dat Herman Cruywagen einde Januarie uittree as besturende direkteur van Orange River Cellars. Ja, die vriendelike man met die rustige geaardheid wat 15 jaar aan die stuur van die kelder was, het besluit om terug te keer na die ander Kaap, die Westelike een, waar hy persoonlike sake-belange gaan volg.

herman-cruywagenHerman was besturende direkteur tydens ván die uitdagendste en opwindendste tye in die geskiedenis van Orange River Cellars, en hy laat ’n diep nalatenskap. Onder sy toesig het die Suid-Afrikaanse en internasionale wynbedryf werklik kennis begin neem van die Noord-Kaapse kelder as ’n vername speler, een wat die uitdagings van die wynmark tromp-op geloop het en ’n nuwe beeld vir hierdie wynbesigheid geskep. Meer aandag aan wingerdbou om te verseker dat gehalte wyndruiwe ons produkte met die bestes in die land kan laat saampraat.

Die koop van die konsentraat-aanleg by die KWV, wat ’n klomp nuwe waarde ontsluit het. Aandag aan bemarking om nuwe etikette te skep, nuwe markte te ontgin en ’n groot volume produk – DeLush – bekend te stel wat gemik is op die opkomende en mode-bewuste wyndrinker.

Só kan mens aangaan oor Herman se besigheidsprestasies wat toonaangewend in die Noord-Kaapse en ganse Suid-Afrikaanse wynbedryf is.

Sy leiersvermoë is gegrond op luister en deelnemende besluitneming, en sy skerp besigheids-sin en deurdagte onderhandelingsvermoë is legendaries. Watter sakebelange Herman ook al volg, daarvan sal hy ’n sukses maak.

Ons gaan sy onderbeklemde humorsin mis, iets wat daar was in die moeilikste tye. Ook die feit dat Herman altyd ’n tyd gemaak het om na die mees junior of mees senior personeellid te luister.

Hierdie voorbeeldige gesinsman het vir ons almal soos familie laat voel. En hoewel hy nou ’n nuwe hoofstuk begin sowat 800km van Upington,  moet hy maar weet sy spore lê nog diep en dit gaan baie Kalahari sand en ’n sterk wind vat om hulle toe te waai.
Tot siens, Herman, maar nie vaarwel. Jy sal altyd deel van die Orange River Cellars-familie wees en ons sien uit vir jou kuiers. Ons wens jou alle sterkte toe.  

 

 

 

 


Copyright © 2017

Professional Web Site Design