Oranjehof Ouetehuis oorhandiging-sm


Die Orange River Cellars, in samewerking met die Upington-Tafelronde 79, het verlede Dinsdag R19000 aan die Oranjehof-tehuis vir bejaardes oorhandig.

Op 24 Mei het die Orange River Cellars en die Upington-Tafelronde 79 ’n welwillenheidsdansparty aangebied waarmee hulle geld vir Oranjehof ingesamel het.

Marie Crafford, bestuurder van Oranjehof, het gesê hulle gaan die geld gebruik om toerusting vir die siekeboeg aan te koop.

“Ons is veral opgewonde oor die aankoop van ’n nuwe bloeddrukmasjien en met die res van die geld sal toerusting aangekoop word om ’n groot leemte te kan vervul,” het sy gesê.

Die Upington-Tafelronde 79 en die Orange River Cellars het vanjaar die eerste keer saam gewerk om geld vir ’n verdienstelike organisasie in te samel.

Orange River Cellars pak elke jaar ’n paar projekte aan waarmee hulle geld insamel vir organisasies wat dit nodig het.

Volgens Jorine van Niekerk van die kelders het dit jare gelede as ’n geldinsameling vir Kansa begin.

“Ons het egter besef daar is ander organisasies wat ook geld nodig het en nou wissel ons ons projekte af.”

Crafford sê Oranjehof is werklik geseënd. “Die mense van Upington is altyd bereid om baie vir ons te doen.” )Besoek gerus die Oranjehof-tehuis vir bejaardes op 5 Julie. Hulle bied hul jaarlikse kermis aan en daar sal weer allerlei eetgoed en vleis te koop wees.


Copyright © 2017

Professional Web Site Design