Die Veritas belig jaarliks die bydrae van ‘n handjievol bedryfsleiers wie se toewyding en entoesiasme insiggewend bygedra het tot die bevordering en groei van die plaaslike wyn- en brandewynbedryf en vanjaar is Mnr. Matthee van Schalkwyk saam met vier ander mense onder die 2013 ererol benoem.

Mnr. van Schalkwyk se bydrae tot die verbetering van die wyngehalte van  Orange River Cellars maak hom ‘n legende in eie reg. Hy het as wynmaker, kelderbestuurder en later as hoofbestuurder van produksie die kelders help uitbou tot die internasionaal bekroonde wynmakery wat dit vandag is.

Hy het in Junie, na  45 jaar by Orange River Cellars in Upington, afgetree en sal altyd onthou word as een van die mense wat gehelp het om die wynbedryf langs die Oranjerivier op die been te bring.

“Veritas verkies om lewende legendes met hierdie spesiale toekenning te vereer en om hulle so te bedank vir hul volgehoue en onontbeerlike bydrae tot die bedryf”, sê Charles Hopkins, SANWSV voorsitter. “Die groei van die bedryf is van meer as die kundigheid van wynmakers en wingerdboukundiges afhanklik en ons bring graag hulde aan diegene wat oor die bestek van dekades hul merk op die bedryf gemaak het.”


Copyright © 2017

Professional Web Site Design