Die Keimoes-kelder, een van Orange River Cellars se vyf wynproduksie-eenhede, het skoonskip gemaak by die pas afgelope Oranje-Vaal Jongwynskou op Douglas. Keimoes het die Oranjerivier Wynkelders wisseltrofee vir Beste Algehele Prestasie gewen asook die Bacchus wisseltrofee trofee vir Algehele Beste Wyn en in altesame nege van die 17 kategorieë geseëvier.

‘n Uitstaande kenmerk was hoe Keimoes sy diversiteit ten toon gestel het met ’n verskeidenheid wyne. Keimoes het uitgeblink in diverse kategorieë, vanaf  Beste Prestasie Wit onversterkte wyn (6 wyne), Beste Prestasie Rooi Onversterkte wyn (4 wyne) en Beste Prestasie Versterkte Wyne (3 wyne).

Volgens Mosdop Dippenaar, bestuurder van die Keimoes-kelder, kan vanjaar se Jongwynskou-prestasies toegeskryf word aan die natuur, mense en tegnologie.

“Die wingerdboere het vanjaar uitstaande druiwe gelewer ondanks moeilike weersomstandighede, en hierdie kwaliteit is te danke aan hul verbintenis tot gehalte onder leiding van Orange River Cellars se wingerdboukundiges,” sê Dippenaar.

“Keimoes se kelderspan het gewys dat hy onder die druk van groot volumes druiwe weier om die strewe na top-gehalte wyn prys te gee, ’n gesindheid wat deur al Orange River Cellars se kelders gedeel word. Die feit dat Keimoes tydens vanjaar se oes kon staatmaak op die aller-modernste tegnologie, soos masjinerie om die pH-vlakke in balans te bring, het ook ’n vername rol in die wyngehalte gespeel en bewys die belangrikheid van ’n wetenskaplike benadering tot wynmaak in ’n wynbesigheid van ons omvang.”

Dippenaar sê Keimoes se benadering reflekteer die toewyding en passie tot gehalte wat by al vyf Orange River Cellars se produksie-eenhede bestaan. “Die Jongwynskou gee ons almal egter kans om op ’n goeie voet mee te ding en hierdie gesonde gees van mededinging dra beslis by tot die algehele verbetering in kwaliteit wat deesdae in die wyne van Orange River Cellars te sien is,” sê hy.

Keimoes se sukses op die Oranjevaal Jongwynskou volg een week nadat Keimoes kelder op die Suid Afikaanse Nasionale Jongwynskou, die grootste en oudste wynskou in Suid-Afrika, die trofee vir die Nasionale Kampioen Muskadel gewen het.
                                

Die volledige uitslae van die 2016 Oranje-Vaal Jongwynskou:

Beste Prestasie Algeheel

Oranjerivier Wynkelders Wisseltrofee -ORC Keimoes

2de Beste Prestasie Algeheel

Windmeul Projects Wisseltrofee – ORC Kakamas

Algehele Beste Wyn

Buchus Wisseltrofee – ORC Keimoes (Wit Muskadel – gehout)

KWV Nominasie (5 wyne genomineer)

KWV Wisseltrofee – ORC Keimoes

Beste Prestasie op Versterkte Wyn (3 wyne)

Empro Wisseltrofee – ORC Keimoes

Beste Prestasie op Rooi Onversterkte Wyn (4 wyne)

WarrenChem Wisseltrofee – ORC Keimoes

Beste Prestasie op Wit Onversterkte Wyn (6 wyne)

Bottlers en Packers Wisseltrofee – ORC Keimoes

Kampioen Muskaat  Versterkte Wyn

Della Toffola Wisseltrofee – ORC Keimoes (Wit Muskadel – gehout)

Kampioen Nie-Muskaat Versterkte Wyn

Douglas Wisseltrofee – Groblershoop (Wit Jerepiko)

Kampioen Rooi Tafelwyn

Absa Bank Wisseltrofee – ORC Upington (Ruby Cabernet/Shiraz)

Kampioen Natuurlike Soet Witwyn

Omdraai Landgoed Wisseltrofee – ORC Keimoes (Spesiale laatoes)

Kampioen Droë Wit Tafelwyn

Gys von Wiellingh Wisseltrofee – ORC Upington (Rosé)

Reserwe Kampioen Muskaat Versterkte Wyn

Jacobsdal Wisseltrofee – ORC Kakamas (Wit Muskadel)

Reserwe Kampioen Nie-Muskaat Versterkte Wyn

CJP Chemicals Wisseltrofee – ORC Groblershoop (Rooi Jerepiko)

Reserwe Kampioen Rooi Tafelwyn

Oranjerivier Tenkers Wisseltrofee – ORC Keimoes (Cabernet Franc/Petit Verdot)

Reserwe Kampioen Natuurlike Soet Witwyn

FNB Wisseltrofee – ORC Kakamas (Chenin Blanc/Wit Muskadel)

Reserwe Kampioen Droë Wit Tafelwyn

Hotel Waterwiel Kakamas Wisseltrofee – ORC Kakamas (Chenin Blanc/Morio Muskaat)

IMG_2343


Copyright © 2017

Professional Web Site Design