‘n Paar weke se versengende Noord-Kaapse hitte in Desember verlede jaar en vroeg Januarie ten spyt, het die 2015-druiweoes by Orange River Cellars op skedule afgeskop, met die eerste groot vragte wyndruiwe wat in die tweede helfte van Januarie fluks na die kelders oppad was
                                                                         .IMG_6009 copy
Volgens Henning Burger, die bestuurder van wingerdboukundige dienste by Orange River Cellars, veroorsaak die hittige weer, anders as wat dikwels geglo word, nie die vroeë rypwording van druiwe nie.

“Wanneer dit werklik warm word, soos in Desember en Januarie toe die Upington-streek konsekwent temperature in die laat 30ºC’e and vroeë 40ºC’e ervaar het, skakel die wingerdstok eintlik sy groei- en rypwordingsiklus af,” sê Burger. “Dit beteken dat geen fotosintese en geen styging van suikervlakke plaasvind nie. Eers toe die temperature begin afkoel het, vanaf 24 Januarie, het die wingerdstokke weer hul normale groeipatroon hervat en het die suikers begin klim.”

Orange River Cellars oes druiwe vir elk van die maatskappy se vyf produksiefasiliteite wat oor ‘n afstand van 300km langs die Oranjerivier strek. Hierdie kelders is Kakamas, Keimoes, Upington, Groblershoop en Grootdrink, en elkeen is sentraal geleë om druiwe uit die groot wynbou-areas in die streek te ontvang.

“Soos verwag kan word met hierdie hitte is die wingerde en druiwe baie gesond,” sê Burger. “Die boere sien ook uit na beter opbrengste as verlede jaar toe ons baie druifvolume verloor het as gevolg van ryp aan die begin van die groeiseisoen.”

“Hierdie jaar se groeiseisoen – van bot tot korrelset – is gekenmerk deur matige klimaatstoestande sonder enige onverwagse natuurlike uitdagings. Die resultaat blyk ‘n gesonde oes van net oor die 130 000 ton vir die vyf kelders te wees, alhoewel dit nog vroeg in die seisoen is en jy nie die gewig van jou druiwe weeg voor dit in die kelder is nie!”

Burger sê dat die analises goed lyk met pH en suur wat in balans is en druiwe wat baie goeie vruguitdrukking en karakter wys.

“Die kwaliteit van die streek se twee vernaamste druifkultivars – Colombard en Chenin Blanc – word elke jaar net beter, soos verlede jaar se Veritas goue medalje vir die Orange River Cellars Colombard bewys het,” sê hy. “En gegewe die uitstekende Chenin Blanc wat in ons area verbou word, is daar geen rede waarom die Colombard se prestasie nie in die Chenin-kategorie herhaal kan word nie.”

Volgens Burger is Orange River Cellars se posisie as ‘n belangrike Suid-Afrikaanse produsent bekragtig deur die besluit om ‘n verdere 200 hektaar Chenin Blanc in die streek aan te plant, asook die produksie van Muskadel te verhoog met meer aanplantings van Muscat de Frontignan.

“Ons het bekendheid vir Muskadel verwerf, en ek glo werklik dat die toestande hier in die Noord-Kaap ons in staat stel om die beste Muskadel in die land te produseer,” sê hy. “Met die groeiende gewildheid van die Chenin Blanc-kategorie, is Orange River Cellars ook besig om by te dra tot die diverse aanbieding van topgehalte Suid-Afrikaanse Chenin Blanc.”

Burger sê een van die veranderende kenmerke van die Oranjerivier-wynstreek is die aanvaarding deur druiweboere dat oesmasjiene die toekoms is.

“Die uitdaging is dat baie van ons wingerde volgens T-opleistelsels geplant is, wat die gebruik van konvensionele oesmasjiene onmoontlik maak,” sê hy. “Ons het die afgelope tyd egter geëksperimenteer met masjiene uit Australië en hierdie jaar pars twee boere met masjiene wat spesiaal gebou is vir T-opleistelsels. Meganisasie sal nog meer waarde vir ons boere ontsluit en algehele produktiwiteit verhoog.”

“Uiteindelik kom dit egter neer op kwaliteit vrugte en goeie wynmaak, en ons beskik oor albei.”


Copyright © 2017

Professional Web Site Design